Middeljarige vrou vir R100 aangeval

R5 000-beloning vir enigiemand wat inligting oor die aanvaller(s) of voorval kan gee.

Daar is ‘n R5 000-beloning vir enigiemand wat inligting het oor die wrede aanranding op ‘n vrou die afgelope naweek.

Lorraine Grové, 51, ‘n winkeleienaar en jarelange inwoner van Randfontein is Saterdag 8 November aangeval nadat sy haar winkel gesluit het en oudergewoonte in Unionstraat huis toe gestap het. Sy is glo van minder as R100 beroof.

Grové het aan die herald verduidelik dat sy net na 5nm op die hoek van Union- en Woodpeckerstraat deur ‘n man aangeval is.

“Ek het net een man gesien. Ek kan niks onthou wat verder gebeur het nie,” het sy gesê.

Polisielede het Grové in die Helikon Park area gevind en Leratong Hospitaal toe geneem. Sy het geen identifikasie by haar gehad nie en die polisie kon dus nie haar familie van die voorval in kennis stel nie.

Intussen het Grové se vriend, Desmond Dryden begin bekommerd raak toe sy nie by die huis opdaag nie.

“Ek het Randfontein Polisie vier keer gebel en gevra of hulle nie dalk weet wat van haar geword het nie. Dit was ‘n groot skok toe ons Sondagaand eers hoor dat sy in die hospitaal is. Ons het begin dink sy het verdwyn,” het Dryden gesê.

Die familie glo Grové was te geskok om te onthou wat gebeur het. Sy het skoenmerke op haar gesig gehad soos sy geskop is.

“My ma is geslaan en in die gesig geskop soos ‘n hond. Niemand verdien om so onmenslik aangerand te word nie,” het Rudie Pieters, Grové se skoonseun gesê.

Grové se familie het haar Maandag na die Robertson Hospitaal toe laat oorplaas waar sy verder behandel is. Sy word glo vandag uit die hospitaal ontslaan.

Die publiek word gevra om asseblief met enige inligting na vore te kom.

Skakel Pieters by 083 383 6162.

Verwante artikels:

Vrou dood gevind in woonstel

Elderly woman attacked in Greenhills

Pensioner and gardener attacked

Exit mobile version