Drama by West Village

... en die EFF wil help.

Inwoners te same met die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het verlede week hul stem by West Village op die R28 tussen Randfontein en sy buurdorp teenoor die munisipaliteit dik gemaak.

Terwyl ‘n paar uitgesoekte verteenwoordigers van West Village en die EFF binne met lede van die munisipaliteit vergader het, het die res buite gedans en gesing – party met EFF-barette op hulle koppe – om hulle ontevredenheid oor die hoë elektrisiteitstariewe wat hulle moet betaal, duidelik te wys.

Die inwoners is ontsteld omdat hulle voorafbetaalde meters in Maart vanjaar deur die kragvoorsiener West Rand Power Distributors (WRPD) met konvensionele meters vervang is.

“Ons betaal nou baie meer as wat ons voorheen betaal het. Hulle buit ons uit en dit moet ophou,” het John Barnardt gesê.

Hy het verlede week ‘n epos aan verskeie politieke partye gestuur en sê dat die EFF die enigste party is wat hom gekontak het en gesê het hulle sal help.

“Sommer drie lede van die EFF het my gekontak!”

Verskeie inwoners, insluitend Barnardt, sê hulle het by verskillende geleenthede met die DA-raadslid vir hulle area, Mathys van Tonder vergader, maar hulle het tot dusver geen terugvoering ontvang nie, net dat hy hulle nie kan help nie.

Barnardt sê waar hy tevore R1 200 per maand vir elektrisiteit betaal het, betaal hy nou tot R5 000 per maand.

Nog ander inwoners soos Barry Marshall sê sy gesin van ses het tussen R800 en R900 per maand vir elektrisiteit betaal. Nou moet hy omtrent R1 900 per maand daarvoor opdok.

“My vrou Astra is die enigste broodwinner en daarom wil ons seker maak ons gebruik nie meer krag as wat nodig is nie. Met die voorafbetaalde meter kon ons nog ons kragverbruik monitor.”

Samantha Cullingworth bedryf ‘n haarsalon en sê die konstante onderbrekings in die elektrisiteitstoevoer is ‘n verleentheid vir haar en haar besigheid.

“Wanneer ek gekla het oor die elektrisiteit wat af is, moet ek net hoor ‘Maak vrede daarmee, hierdie is die nuwe Suid-Afrika’.”

Sy sê die elektrisiteit was Maandag weer af en wanneer dit gebeur verloor sy inkomste.

“Ek kan dan nie werk nie. My man werk in die Oos-Kaap, maar is reeds vir vier maande nie betaal nie – my inkomste dra tans twee huishoudings en as ek nie kan werk nie, kan ek nie kos op die tafel sit nie.”

Patrick Sindane, ‘n EFF-lid van die provinsiale wetgewer sê hierdie saak moet as van nasional belang beskou word.

“Die armes, ongeag van hulle velkleur, moet bygestaan word.

“Ons soek antwoorde oor wanneer die voorafbetaalde meters weer geïnstalleer gaan word.”

Hy sê ons lewe in ‘n demokratiese land en wanneer die inwoners nie iets wil hê wat op hulle afgedwing word, moet daar nie teen hulle wense opgetree word nie.

“Ons sal baklei vir wat reg is en daarom gaan ons bly druk uitoefen vir vergaderings met die onderskeie rolspelers totdat ons ‘n antwoord het.”

Patrick Sindane, ‘n EFF-lid van die provinsiale wetgewer praat hier met van die inwoners van West Village wat oor die hoë elektrisiteitsrekeninge kla.
Exit mobile version