Die Ramkiekie maak groot opslae

Die Ramkiekie, derde in gauteng en sewende in Suid-Afrika.

Laerskool Randfontein (Ram) se skoolkoerant, Die Ramkiekie het uitstekend gevaar tydens die Nasionale Skoolkoerantkompetisie.

Die koerant spog met ‘n derde plek in Gauteng en ‘n sewende plek in Suid-Afrika.

Volgens die skakelbeampte van die skool, Annie Nolan, is dit ‘n ongelooflike prestasie aangesien Die Ramkiekie in 2001 as ‘n nuusbrief begin is en in 2014 deur die nuwe skoolhoof, Leon Haupt tot ‘n volwaardige skoolkoerant gevorder is.

Die Ramkiekie is onder leiding van Nolan en Celeste Flemming op die been gebring. Sedertdien het dié koerant van krag tot krag gegroei.

“Daar is besluit dat dit deur ‘n leerlingredaksie hanteer gaan word. Die redaksie is saamgestel, waarna opleiding aangebied is. Die personeel het Beeld se skoolkoerantkursus bygewoon en met baie nuwe idees en vol geesdrif die leerlinge opgelei,” vertel Nolan.

Sy sê dat Randfontein se plaaslike koerant, die herald ook hulp en raad verleen het.

“Wayne Kruger, een van die herald se verslaggewers het baie raad en advies gegee oor hoe ‘n koerant werk en wat in ‘n artikel moet bevat. Kruger het ook baie raad gegee oor die uitleg en voorkoms van die koerant,” vertel Nolan.

Ram se doel met hul kwartaallikse skoolkoerant is om ouers en die omliggende gemeenskap op hoogte te hou van die belangrikste gebeure by die skool.

Nolan vertel dat daar in dié koerant erkenning gegee word aan leerlinge se besonderse prestasies in die klaskamer, op kultuurgebied en die sportveld.

“Met die ondersteuning van Laerskool Randfontein se bestuur en beheerliggaam glo ons dat die koerant net nog verder gaan groei en ontwikkel. Ons is trots op die puik kommentaar wat ons van die Beste Skoolkoerant-kompetisie ontvang het.”

Exit mobile version