Speeltyd vir kankerlyertjie

Nico Flowers met talle geskenke verras.

Nico Flowers, ‘n sewejarige seuntjie wat vroeër vanjaar met Hodgkin’s Limfoom gediagnoseer is se wense is danksy die gemeenskap bewaarheid.

Grain Care, ‘n nie-winsgewende organisasie van Randfontein het onlangs ‘n funksie, met sanger Bok van Blerk as gaskunstenaar gehou waartydens R13 000 vir dié jong kankerlyertjie ingesamel is.

‘n Geelkleurige Blou Bul-trui is twee keer deur die loop van die funksie opgeveil. Dit het eers ‘n bedrag van R8 000 gehaal, waarna dit teruggegee is en toe weer vir R5 000 opgeveil is.

Die trui is daarna tesame met al die items wat hy op sy wenslysie gehad het aan Nico geskenk en sal nou in sy slaapkamer pryk.

Grain Care-komiteelede Mariaan le Roux en Zelda Nel het hom by sy ouerhuis in West Village besoek om die geskenke aan hom te oorhandig.

Dit sluit in items soos skoene, inkleurboeke, speelgoed, jogurt, vars vrugte en gegeurde water.

“Die ander geld sal gebruik word om die gesin by te staan.”

André Flowers, Nico se pa, sê hulle het in Februarie uitgevind dat sy seun, ‘n Graad 1-leerling van Laerskool Dr Havinga in Witpoortjie ernstig siek met kanker is.

Hy het toe bly skool gaan totdat hy te siek geword het en is toe uit die skool gehaal om chemoterapie en bestraling te ondergaan.

“Ek bedank al die mense wat gehelp het en ons ondersteun. Ook dankie vir al die lekkernye en items wat Nico as geskenke gekry het – ons is baie dankbaar daarvoor.”

Zelda Nel van Grain Care sê om so na ander mense uit te reik laat ‘n warm gevoel in ‘n mens se hart.

“Dat jy ‘n klein seuntjie in hierdie moeilike tyd kan bystaan en ook dinge vir die familie makliker kan maak en hulle ondersteun is wonderlik.”

Verwante artikels:

Exit mobile version