NewsSchools

Rampoppies terug na vyf jaar

Laerskool Randfontein se gewilde pom-pom-groep is weer aan die gang na lang afwesigheid.

Na vyf jaar het Laerskool Randfontein (Ram) besluit om hul Rampoppie pom-pom-groep weer op die been te bring.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan het twee van Ram se onderwysstudente, Emmarentia Coetzer en Maretha van der Walt die groep van 13 leerlinge onder hul vlerk geneem.

Dié twee afrigters het hulp van choreograaf Angelo Almeida gekry om die groep se roetine uit te werk en af te rond.

“Die groep het vanjaar reeds by verskeie geleenthede opgetree en baie goed gevaar,” vertel Nolan.

Tydens die Raca-kunstefees het hulle ‘n goue sertifikaat verower en spog met ‘n diploma tydens die Nasionale Eisteddfod.

Nolan sê die groep meisies staan ook nie terug vir skole wat al vir lank ‘n pom-pom-groep het nie.

“Hulle het tydens die D2-kompetisie baie karakter gewys en tydens hul eerste optrede in dié kompetisie ‘n algehele tweede plek behaal,” vertel Nolan.

Hulle spog ook met ‘n algehele eerste plek tydens hul tweede optrede op die verhoog.

Die Rampoppies het ook tot die D2-eindstryd deurgedring wat dié maand by WestGold Primary sal plaasvind.

“Die hoof en personeel van Ram is uiters trots op die dogters en kan nie wag om te sien watter hoogtes hulle nog gaan bereik nie,” vertel Nolan.

Related Articles

Back to top button