Kuns het haar gered

Na 'n grusame motorongeluk wat byna Greta Hurter se lewe geëis het, was kuns die antwoord.

Greta Hurter is ‘n lewende getuie van sukses na ‘n grusame ongeluk.

Dié vasberade plaaslike kunstenaar vertel dat sy 28 jaar gelede in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was en ‘n breinstambesering opgedoen het.

“Ek was na die ongeluk rolstoelgebonde. Ek moes van voor af leer praat en oefeninge doen om die funksie in my hande te herwin,” vertel Hurter.

Tog het dié uitdaging haar nie onder gekry nie.

Sy het sowat twee jaar na die ongeluk weer begin loop en stelselmatig weer beheer oor haar spraak herwin.

“Dit was baie moeilik en ek het daagliks baie oefeninge gedoen om weer te kon loop en praat.”

Aangesien Hurter voor die ongeluk baie lief was vir kuns, het sy as deel van haar terapie verskeie kunssoorte begin beoefen.

Sy vertel dat sy houtsneewerk, glasverf en uiteindelik skilderkuns probeer het.

“Sowat twee jaar gelede het ek begin om skilderklasse te neem en dit wat eintlik bloot terapie moes wees het my gunsteling tydverdryf geword,” vertel Hurter.

Alhoewel Hurter puik werke lewer, vertel sy dat dit vir haar ‘n reuse uitdaging is om elke kunswerk te voltooi aangesien sy baie min funksie in haar hande het.

In ‘n kwessie van twee jaar het Hurter nietemin ongeveer 55 skilderye voltooi en ook onlangs ‘n uitstalling gehou.

“Ek was baie bang dat ander mense nie van my werke gaan hou nie maar op 1 Oktober het die gemeenskap van Randfontein my verkeerd bewys toe 16 van my kunswerke tydens die kunsuitstalling verkoop is,” vertel Hurter trots.

Sy vertel verder dat daar per afspraak na haar werke gekyk kan word.

“Ek het 28 jaar gelede gedink my lewe is verby, maar met die bystand van my familie en vasberadenheid het ek nie moed opgegee nie,” vertel Hurter.

Met hierdie motto tot Hunter se sukses is sy ‘n inspirasie vir ‘n gemeenskap – weereens ‘n bewys dat sukses meestal van jouself afhang.

Sy laat ook elke leser met die volgende gedagte: “Moet nooit opgee nie. As jy hard werk en in jouself glo sal jy sukses behaal, afgesien van die struikelblokke wat die lewe oor jou pad mag rol.”

Om ‘n afspraak met Greta Hurter te maak om na haar werke te gaan kyk, skakel haar gerus by 082 561 4592.

Exit mobile version