Spoeg en spog by Erfenisdagfees

Gemeenskap geniet Woord en Lig Christen Kerk se Denimfees op Erfenisdag.

Woord en Lig Christen Kerk het as deel van hul Erfenisdag-feesvieringe ‘n heerlike denimfees aangebied.

Volgens ‘n verteenwoordiger van dié gemeente, pastoor Marthie Erasmus het die fees op 24 September by die kerk in Robinaweg, Greenhills plaasgevind.

“Die fees was ‘n reuse sukses en talle lede van die gemeenskap het saam met ons die dag kom geniet,” vertel Erasmus.

Behalwe vir topklas vermaak deur die musiekstudente van Letzi Lottering Musiekskool, was daar ook optredes deur sangers soos Piet Lottering en die welbekende plaaslike sanger Marli en haar country-lyndansers.

Feesgangers kon aan allerhande kompetisies deelneem. Die persoon met die kreatiefste denim, asook die persoon wat ‘n bokdrol die verste kon spoeg het lekker pryse losgeslaan. Daar was ook verskeie ander kompetisies met pryse vir die hele familie.

“Met stalletjies om van te kies en te keur het die feesgangers aan heerlike kosse gesmul en die dag net saam geniet,” vertel Erasmus.

Sy bedank elke persoon wat die fees bygewoon het. “Sonder julle ondersteuning sou die fees nie so ‘n groot sukses gewees het nie.”

Exit mobile version