Voetspore Fees skud Randfontein

Eerste Voetspore Fees wat as fondsinsamelingsprojek vir kerke dien 'n sukses.

Plaaslike en nasionale kunstenaars het die afgelope naweek Randfontein toe gestroom om deel te wees van die eerste Voetspore Fees.

Volgens plaaslike kunstenaar en een van die organiseerders Marli Fourie het sy en mede organiseerder Mac van Zyl besluit om die Voetspore fees as deel van ‘n barmhartigheidsprojek op die been te bring.

“Alle fondse wat tydens die fees ingesamel is sal aangewend word vir die Nederduitsch Hervormde Kerke van Afrika (NHKA) Ring van Losberg wat Randfontein, Westonaria, Carletonville en Fochville insluit.,” vertel Fourie.

Sy vertel verder dat die fees ‘n reuse sukses was en dat talle lede van die gemeenskap deur die loop van die naweek by die fees ingeloer het.

“Die fees was bloot ‘n lekker saam kuier fees met musiek van opkomende kunstenaars asook welbekendes in die bedryf,” vertel Fourie.

Diegene wat die fees bygewoon het, kon uitsien na optredes deur sangers soos, Marli en haar dansers; Fredi Nest; Tanya V; Dillan Lerm; NRG; Gerrie Pretorius en selfs die Kannie Warries Dansorkes.

Feesgangers kon nie net na topklas vermaak uitsien nie, maar ook allerhande interesante artikels by die stalletjies koop en aan heerlike kos smul.

“Met soveel sukses gedurende ons eerste jaar, is ons beslis van plan om dié fees ‘n jaarlikse instelling in Randfontein te maak,” vertel Fourie.

Fourie bedank ook elkeen wat hard gewerk het om van die fees ‘n sukses te maak.

“Dankie ook aan die gemeenskap wat ons so goed ondersteun het. Ons maak volgende jaar weer so,” vertel Fourie.

Rudi Jooste van die Kannie Warries Dansorkes tydens hul optrede by die Voetspore Fees.

 

Insetsel met Mac van Zyl

Exit mobile version