Ram-leerlinge hou entrepreneursdag

Graad 7's van Laerskool Randfontein se besigheidskennis op die proef gestel.

Die Graad 7-leerlinge van Laerskool Randfontein (Ram) het onlangs aan ‘n suksesvolle entrepreneursdag deelgeneem.

Hulle het gewys dat hulle beslis waardige sakemanne en -vroue in die toekoms kan wees.

As deel van Ekonomiese Bestuurswetenskap vereis die Departement van Onderwys dat alle Graad 7-leerlinge ‘n entrepreneursmark hou aan die einde van die derde kwartaal.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan, moes elke Graad 7-leerling ‘n produk of diens kies, beplan, bemark en uitvoer.

“Die entrepreneursdag was ‘n reuse sukses en die leerlinge het werklik baie moeite gedoen om hulle produkte aanloklik te maak,” vertel Nolan.

Sy vertel dat daar talle stalletjies was en dat die Graad 7-leerlinge gesorg het vir heerlike kos, lekkers vir die soettande en selfs allerhande interessante speletjies.

“Die projek is nie net vir punte nie, maar ook natuurlik vir al die wins wat ingesamel is,” vertel Nolan.

Sy verduidelik dat Ram se Graad 7’s beslis vaardighede in kommunikasie, bemarking, beplanning, begroting en bestuur baasgeraak het.

Na die afloop van die entrepreneursdag is al die nodige berekeninge gedoen en die winste het van R400 tot ‘n stewige R1 300 gestrek.

“Spanwerk is ook aangemoedig, aangesien die leerlinge die geleentheid gehad het om in groepe saam te werk,” vertel Nolan.

“Die gees het hoog geloop en ouers, oumas, oupas, onderwysers, leerlinge en selfs dierevriende het dit geniet. Die Graad 7-leerlinge het Ram se naam tydens die geleentheid hoog gehou.”

Nolan vertel ten slotte dat Ram sekerlik ‘n hele paar besigheidsmanne en- vroue in die toekoms gaan oplewer.

Exit mobile version