Local newsNews

AGS-Middelvlei se Lentemarkdag om die draai

"Ons hoop om elke inwoner daar te sien'"— pastoor.

Die AGS Middelvlei-gemeente nooi die Randfontein-gemeenskap om op 27 September by hulle lentemarkdag te kom inloer.

Volgens die pastoor van die AGS Middelvlei-gemeente, Henry Sinclair, beloof dié geleentheid om hope pret vir oud en jonk te wees.

Sinclair verduidelik dat daar verskeie kos- en koeldrankstalletjies sal wees. Dus kan elke feesganger aan verskeie lekkernye smul terwyl hulle al die aktiwiteite by die markdag geniet.

Die stalletjies sluit in onder andere boereworsrolle, ontbytburgers, pannekoek, kerrie en rys en selfs tuisgebakte goedere.

“Ons is baie opgewonde oor die markdag en doen ‘n beroep op die Randfontein-gemeenskap om ons te kom ondersteun,” vertel Sinclair.

Verder kan feesgangers ook uitsien na top vermaak deur verskeie dansgroepe en ‘n optrede deur gospelsanger Lourens Groenewald.

“Die jongklomp kan op die springkastele kom baljaar en aan verskeie ander speletjies deelneem,” vertel Sinclair.

“Motorliefhebbers kan ook na die veteraanmotors kom kyk wat ten toon gestel gaan word.”

Sinclair vertel dat daar nog stalletjies beskikbaar is. Die gemeenskap kan vir Ria by 011 415 3414 skakel om hul stalletjie te bespreek.

“Die geleentheid gaan hope pret vir die hele familie wees. Ons hoop om elke Randfontein-inwoner daar te sien,” eindig Sinclair.

Related Articles

Back to top button