Rierand steel die kollig tydens ATKV-toneelfees

Senior toneelgroep is as algehele wenners aangewys.

Hoërskool Riebeeckrand se senior toneelgroep het die kollig behoorlik gesteel tydens die ATKV se toneelfees, Sonder Grense.

Volgens Hoërskool Riebeeckrand se bemarker, Rickus Kruger het dié leerlinge en hul afrigtingspan se harde werk en ure van repetisies vrugte afgewerp.

“Dit was die eerste keer dat Rierand aan dié fees deelneem en ons het verskeie toekennings losgeslaan. Dit is ook die grootste kompetisie waaraan dié groep al deelgeneem het,” vertel Kruger.

Hulle het meegeding met skole soos Jeugland, Waterkloof, Jan Viljoen, Potchefstroom Gimnasium en verskeie volwasse groepe, asook laerskole. Selfs skole van Bethlehem en die Vrystaat het aan die kompetisie deelgeneem wat oor twee dae gehou is.

“Riebeeckrand het die gehoor met uitstekende spel vermaak,” vertel Kruger.

Danjue Neethling het die toekenning ontvang vir beste akteur en Nicole Levy as beste byspeler. Die groep het ook die toekenning ontvang vir beste ensemble, hulle is die kategoriewenner vir hoërskole en is ook as algehele wenner van die kompetisie aangewys.

“Hulle spog met ‘n pragtige trofee asook ‘n kontantprys van R6 000,” vertel Kruger.

Dit is glo ook nie die eerste keer dat die skool beïndruk nie. Tydens die Raca-kunswedstryd het die groep met ‘n persentasie van 90 persent gespog. Hulle is ook as afdelingswenners vir hoërskole aangewys.

Diegene wat dié dinamiese groep in aksie wil sien kan hulle by die Nasionale Eisteddfod op 15 September en by Hoërskool Riebeeckrand se toneelaand op 24 September ondersteun.

Exit mobile version