Jannas pom-poms steel die kollig

Jannas spog met 98 persent vir hul roetine tydens gesogte Raca-kunstefees.

Hoërskool Jan Viljoen se pom-poms het weer tydens vanjaar se Raca-kunstefees die kollig gesteel.

Jannas het nie teleurgestel nie en 98 persent vir hul uitstaande opvoering verower.

Volgens die spanbestuurder van die Jannas Pom-Poms, Retha Rossouw, het dié groep op 22 Augustus aan die Kunstefees deelgeneem wat by Randfontein High School (RHS) aangebied is.

Sy vertel verder dat verskeie laer- en hoërskole soos Riebeeckrand, Rapportryer, Randfontein en Westgold Primary betrokke was.

“Al dié deelnemers het baie goeie punte vir hul opvoerings bereik, maar Jannas se pom-poms het weereens die toon aangegee met ‘n perfekte roetine en sodoende die hoogste prestasie vir die dag bereik,” vertel Rossouw.

Rossouw verduidelik dat die beoordelaars selfs 100 persent vir die groep gegee het vir hul choreografie. Verder het hulle puik kommentaar gekry en selfs ‘n staande ovasie van die gehoor en beoordelaars ontvang.

“Ons was baie verbaas met dié gebaar en beskou dit as ‘n eer om sulke goeie terugvoering op ons roetine te ontvang,” vertel Rossouw.

Die Raca-kunstefees was ook Jannas se pom-poms se laaste kompetisie vir die jaar en hul choreograaf, Mario Gomes, sal vroeg in Oktober reeds sy span vir 2015 aankondig.

Exit mobile version