“Bring die doodstraf terug” — VF Plus

VF Plus spreek hul kommer uit oor grusame moorde teen vroue, kinders.

“Hoeveel onskuldige mense moet nog hul lewens verloor?”

So het stadsraadslid Franco de Lange van die VF Plus in Johannesburg Dinsdag gesê na ‘n reeks grusame moorde teen kinders en vroue die afgelope maand.

“Die Grondwet van Suid-Afrika waarborg die reg tot lewe, maar hoeveel keer kan jy moord pleeg alvorens jy daardie reg verloor. So ‘n persoon verdien dan die doodstraf.”

De Lange het verwys na die vlaag vroue- en kindermoorde wat vandeesmaand in Gauteng plaasgevind het.

Die afgelope naweek is die driejarige Luke Tibbetts van Westbury begrawe – ‘n dwaalkoeël het hom getref terwyl hy op sy ma se skoot gesit het. Een van die beskuldigdes in die saak, Lindray Khakhu, staar reeds 12 ander aanklagtes van moord en poging tot moord in die gesig.

De Lange het ook sy kommer uitgespreek oor die grusame moord van ‘n vrou die afgelope naweek.

“Augustus is Vrouemaand, maar Saterdag is ‘n vrou meer as 50 keer met ‘n mes in haar bors, rug en maag gesteek. Haar liggaam is in Bryanston langs ‘n pad gevind.

“Hoeveel onskuldige mense moet nog hul lewens verloor en vir hoe lank gaan die regering nog moordenaars beskerm en die publiek hul reg tot lewe ontneem,” vra De Lange.

Exit mobile version