Local newsNews

Geliefde inwoner, Oom Johann, sterf op 89

"Hy was 'n steunpilaar, leier en vriend" — dogter

Familie en vriende sal volgende week hul laaste eer betoon aan ‘n bekende en geliefde gesig in die gemeenskap, Johann George Christiaan Smal, 89, wat onlangs gesterf het.

Volgens sy dogter Kotie van Heerden is haar pa en Oom Johann – soos hy in die gemeenskap bekendgestaan het – weens natuurlike oorsake dood. ‘n Begrafnisdiens sal Woensdag 13 Augustus vanuit die NG Kerk Randfontein-Noord plaasvind.

Sy afsterwe het by die gemeenskap, sy familie, kinders, kleinkinders en agterkleinkind ‘n groot leemte gelaat. Vir sy gesin was hy ‘n steunpilaar, leier en vriend.

“My pa het diep spore in die gemeenskap getrap en was geliefd en bekend in baie kringe. Ons is hartseer, maar gun hom sy rus. Ons is egter dankbaar dat ons Hemelse Vader hom so lank vir ons gespaar het. Sy plek is leeg – ons gaan hom verskriklik mis,” het Van Heerden aan die herald gesê.

Smal en sy gesin het hulle in 1973 in Randfontein gevestig. Hy was ‘n lektor by die Randfontein Tegniese Kollege (tans Westcol) en was later adjunkhoof.

Hy was ‘n jarelange lidmaat van die NG-gemeente Randfontein-Noord, waar hy saam met sy oorlede vrou in ‘n stadium die Sondagskool gekoördineer het en ook ouderling was.

Van Heerden het bygevoeg, “Almal sal ook kan onthou hoe hy tot onlangs toe nog saam vleis gesny het by die kerk. Hy het ook nooit geskroom om te help waar hulle hom nodig gehad het nie.”

Smal was ook ‘n lid van die Silwerjare en het hul uitstappies en aktiwiteite baie geniet.

“Hy was nooit te besig om aandag aan sy gesin te gee nie. Hy het sy kinders Godvresend grootgemaak en ook vir ons ‘n goeie voorbeeld gestel. Hy het die reguit paadjie geloop en het altyd die goeie in ander raakgesien.”

Smal was verder baie lief vir sy karavaanvakansies en het gereeld gaan kamp; ‘n besoek aan die Krugerwildtuin was ‘n jaarlikse instelling asook blommekyk in Namakwaland.

Related Articles

Back to top button