Local newsNews

Hervormde Kerk hou grootste basaar nog

"Daar was skaars plek vir 'n muis."

Die Randfontein-gemeenskap het hul gate uit geniet tydens die Hervormde Kerk in Midpark se basaar wat die afgelope naweek plaasgevind het.

Die sekretaresse van dié gemeente, Chrissie Munnik sê, “Die hekke het om 10vm geopen en kort voor lank was daar skaars plek vir ‘n muis in die kerkgebou.”

Die basaar was ‘n reuse sukses en met soveel om te doen en te sien, was dit beslis ‘n basaar vir oud en jonk.

“Ons hou jaarliks ‘n basaar, maar vanjaar se basaar was beslis die grootste nog,” vertel Munnik.

Tydens dié geleentheid kon feesgangers Hoërskool Jan Viljoen se pom-pom-groep op die verhoog in aksie sien en die plaaslike sangsensasie, Tanya V, het regdeur die dag die feesgangers met haar nagtegaalstem vermaak.

“Buite die kerkgebou was daar talle speletjies vir die jongklomp en selfs die ouer garde het hulle jong dae by die skyfskietbaan herleef,” vertel Munnik.

Munnik bedank elke persoon wat bygedra het tot die sukses van die dag asook elke lid van die gemeenskap wat die geleentheid ondersteun het.

Related Articles

Back to top button