Ram-seniorskaakspan stel nie teleur

Laerskool Randfontein se o.13-skaakspan bespreek hul plek vir Gauteng Kampioenskappe.

‘n Goeie spel deur Laerskool Randfontein (Ram) se seniorskaakspan het hulle ‘n plek in Gauteng se Top Skole-skaaktoernooi verseker.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan het Ram se o.13-skaakspan ‘n welverdiende tweede plek tydens die Gauteng-Wes eindstryd behaal wat by Westonaria Primary gehou is.

“Met ‘n algehele tweede plek tydens dié gesogte toernooi het ons o.13-skaakspan deurgedring en sal hulle binnekort Gauteng-Wes tydens die Gauteng Top Skole Skaaktoernooi verteenwoordig.”

Laerskool Randfontein is uiters trots op die skaakspan en wens hulle alle sterkte toe vir die opkomende toernooi.

Volgens Nolan word skaak by Ram deur Magda Graaff en Riekie Gerber afgerig. Dié afrigters is self kranige skaakspelers en hulle insette maak beslis ‘n reuse impak op die spelers se strategie, volgens haar.

“Dié besonderse span het ook aan die D2-skaakproewe deelgeneem waar die spelers individueel geproef is. Waldo Greyling en Keanu Botha het hulself puik van hul taak gekwyt en is in die D2 Skaakspan opgeneem. Hulle gaan nou aan verdere proewe deelneem. Baie geluk Waldo en Keanu en sterkte met die verdere proewe,” vertel Nolan.

Exit mobile version