Rierand-ruiters steel die kollig

Hoërskool Riebeeckrand se top ruiters blink uit tydens Gauteng-Wes Perdry Kampioenskappe.

Na ‘n angswekkende Gauteng-Wes perdrybyeenkoms is Christy Duvenhage, Nicolette Spoelstra en Thesandrè Greyling vir die Gauteng-Wes perdryspan gekies.

Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger, gaan die Gauteng-Wes perdryspan op 9 en 10 Augustus aan die Gauteng Kampioenskappe deelneem wat by Misty Meadows in Pretoria sal plaasvind.

“Net die beste in die provinsie neem aan die prestige byeenkoms deel en ons almal by Riebeeckrand is oortuig dat dié dogters ons skool se naam hoog gaan hou,” vertel Kruger.

Kruger verduidelik dat Christy in die A-span opgeneem is.

“Sy sal in verskeie afdelings deelneem. Die afdelings sluit Performance, Prix Caprili, Working Riding en Dressage in.”

Nicolette sal in die Performance en Working Riding afdelings vir die B-span deelneem, terwyl Thesandrè in die Dressage en Show Jumping afdelings in die B-span sal meeding.

“Christy neem ook in Oktober deel aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe, wat in Parys plaasvind. Baie geluk aan die dogters met die puik prestasie en sterkte met die kampioenskappe wat voorlê,” vertel Kruger ten slotte.

Exit mobile version