Jonkwees is nie vir sissies nie

Hoërskool Jan Viljoen-akteurs se toneelstuk vertel 'n dramatiese verhaal.

Tydens hul jaarlikse sop-en-sjerrie-aand het Hoërskool Jan Viljoen se dramagroep weer die kollig gesteel met hul nuwe produksie Dag en Nag. Na maande se oefening het die toneelleerlinge die geleentheid gehad om dié stuk Vrydag vir die eerste keer op te voer.

Volgens die regisseur van dié produksie, Alta Steenekamp vertel Dag en Nag van die probleme wat jongmense moet hanteer en hoe dit by ‘n mens kan spook wanneer jy alleen is.

“Dag en Nag is ‘n baie treffende stuk aangesien dit mens van begin tot einde boei,” vertel Steenekamp. “Die aand was ‘n reuse sukses en die toeskouers het weer regdeur die opvoering op die punte van hul stoele gesit,” vertel Steenekamp.

Sy vertel verder dat die toneelspan uit vyf akteurs bestaan. Dié leerlinge is Shinez Claassen, Jackie Viljoen, Dewald Greeff, Edrich Weyers en Richard Beyleveld. Verder is daar twee leerlinge wat die klank en beligting monitor. Hulle is Tiaan van Niekerk en Ronaldo Luit.

Die akteurs se kostumering en grimering is deur Chanelle van den Berg behartig.

Steenekamp en haar span bedank elkeen wat die geleentheid bygewoon het en soveel belangstelling in dié groep leerlinge se talente getoon het.

“Ek wil elkeen van dié leerlinge geluk wens met ‘n puik vertoning. As dit die standaard is van die werk wat ons deur die jaar op die planke gaan sien, glo ek ons sal baie goed vaar tydens die komende kunstefeeste,” vertel Steenekamp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version