Rierand sorg vir vol mae in Rustenburg

Hoërskool Riebeeckrand wys dat hulle vir ander omgee.

Na afloop van die stakings in die Rustenburg-area het Hoërskool Riebeeckrand dit goedgedink om dié gemeenskap by te staan deur nie-bederfbare kos aan behoeftiges in die area te skenk.

Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger, het leerlinge, onderwysers en lede van die gemeenskap almal saamgespan om hulp te verleen.

“Daar was selfs voedsel ingesamel by die jaarlikse derby-dag waar Hoërskool Riebeeckrand en Hoërskool Jan Viljoen kragte gemeet het,” vertel Kruger.

Verteenwoordigers van Hoërskool Riebeeckrand het onlangs die blikkieskos, nie-bederfbare voedsel en selfs honde- en kattekos wat ingesamel is, na Rustenburg geneem om met die voedselkrisis in die area te help.

“Dirk Neethling, ‘n lid van die ouerbeheerliggaam van Hoërskool Riebeeckrand, het die voedsel aangery en afgelewer nadat dit spesiaal deur die hoof van Hoërskool Riebeeckrand, Annelize van den Berg, verpak is,” vertel Kruger.

Die bestuur van Hoërskool Riebeeckrand wil dankie sê vir die bydrae van toeskouers en leerlinge by die Riebeeckrand en Jan Viljoen rugbydag, asook aan Dirk Neethling, Marinda Buitendag, die Randfontein gemeenskap en leerlinge van Rierand vir hul goedhartigheid en ondersteuning tydens die projek.

Exit mobile version