Ram-rugby staan uit tydens Bokkieweek

Ses rugbyspelers van Laerskool Randfontein presteer by top toernooi.

Laerskool Randfontein (Ram) spog vanjaar met ses van hul o.13-rugbyspelers wat die afgelope skoolvakansie aan die Afrikaans Volkseie Sport Bokkieweek deelgeneem het.

Volgens die skakelbeampte van Ram, Annie Nolan, het dié sportweek in Naboomspruit plaasgevind.

Sy sê dat Charl Meyer, Garreth Fitzgerald, Keanu Botha, Damian McPhee, Kyle Schalkwyk en Kean van Rensburg aan die Bokkieweek-proewe deelgeneem en hulself goed van hul taak gekwyt het.

“Dié proewe het by Hoërskool Die Burger plaasgevind en Kean is in die Noord-Transvaal se o.13-rugbyspan opgeneem,” vertel Nolan.

“Charl, Garreth, Keanu, Damian en Kyle is almal in die Leeus se o.13-rugbyspan opgeneem.”

Dié ses rugbyspelers het saam met sowat 3 000 ander rugby-, netbal- en hokkiespelers, sowel as redenaarsleerlinge aan die Bokkieweek deelgeneem.

“Die spanne het elke dag kragte teen die ander 14 unies gemeet en elke oomblik van die week geniet,” vertel Nolan.

Charl is ook tydens die geleentheid tot die o.13B-Bokkie-uitnodigingspan verkies. Die Bokkie-uitnodingspan gaan Oktober in Namibië toer. Nolan sê dat Chris Coetzer en Ruard van Rooyen – twee van Ram se studente-onderwysers die voorreg gehad het om die Noord-Transvaal se o.13-rugbyspan af te rig.

“Na baie strawwe wedstryde het die Noord-Transvaal-span die geleentheid gekry om in die eindstryd vir die beker mee te ding. Die Noord-Transvaal-span het in ‘n baie harde wedstryd teen Suid-Oos Transvaal met ‘n telling van 8-0 gewen en sodoende die toernooi beklink,” vertel Nolan.

Die personeel en leerlinge van Ram is baie trots op die leerlinge en onderwysers.

“Dis verblydend dat daar nog geleenthede is vir jong opkomende sterre om hul talente ten toon te stel. Ons is seker ons gaan nog baie van dié spelers in die toekoms hoor,” vertel Nolan.

Exit mobile version