Local newsNews

Roem in sig vir 10-jarige sanger

Michelle Kruger se CD binnekort op winkels se rakke.

Met haar nagtegaalstem het die 10-jarige Michelle Kruger vir haarself ‘n CD-opname tydens die afgelope Kruiskyk Gospelkompetisie losgesing.

Michelle vertel dat sy in 2013 ‘n advertensie vir die Kruiskyk Gospelkompetisie gesien het en dadelik besluit het om in te skryf. Die aspirantsangeres het in die Laerskole-afdeling deelgeneem en waarlik haar stempel tydens die oudisies afgedruk.

“Die oudisies vir dié kompetisie het in September verlede jaar plaasgevind. Ek het toe die liedjie Laat almal weet gesing en toe ek my weer kon kry was ek onder die top 20,” sê Michelle.

Aangesien sy vir haarself ‘n plek in die top 20 verseker het, het sy in November 2013 by die gala-aand van dié sangkompetisie deelgeneem en vir haarself ‘n welverdiende derde plek losgesing.

“Ek was baie bly oor my prestasie. Ek kon nie glo dat ek so goed gevaar het nie,” vertel Michelle.

Kort daarna is sy ingelig dat sy ‘n oorspronklike liedjie moes komponeer.

“Ek het dadelik my musiekjuffrou, Letzi Lottering gevra om vir my ‘n liedjie te skryf,” vertel Michelle.

Die liedjie, Jubel en Juig wat Lottering vir Michelle geskryf het is kort daarna by Kruiskyk opgeneem en sal binnekort op ‘n CD verskyn wat eersdaags in musiekwinkels beskikbaar sal wees.

“Ek het ook ‘n musiekvideo gemaak as deel van my prys. Die video van Jubel en Juig sal ook binnekort op YouTube verskyn,” vertel Michelle opgewonde.

Michelle bedank haar ouers en haar ouma vir al hulle liefde en ondersteuning asook haar musiekonderwyser, Letzi vir die pragtige liedjie wat sy vir haar geskryf het.

Related Articles

Back to top button