Tannie Lizzie word 98

Randpoort Renaissance vier hul oudste inwoner se verjaarsdag.

Die inwoners van Randpoort Renaissance het op 2 Julie behoorlik makietie gehou aangesien dié oord vanjaar vir 25 jaar lank bestaan.

En om die dag net soveel meer spesiaal te maak, het die inwoners ook hul oudste inwoner, Lizzie le Roux, se 98ste verjaarsdag gevier.

Le Roux is op 3 Julie 1916 op die plaas Elandsfontein gebore en woon al vir die afgelope 23 jaar in Randpoort Renaissance. Le Roux vertel dat haar jare by die oord net vreugde gebring het.

“Ek geniet dit soveel om daagliks deur die oord te stap en is nog gelukkig om my daaglikse stap in die oord se pragtige tuin te geniet,” het Le Roux gesê.

Sy vertel verder dat haar lewe met vyf kinders; 23 kleinkinders en 19 agterkleinkinders geseën is.

“Dit was vir my baie lekker om my spesiale dag saam my vriende van Randpoort Renaissance te spandeer. Ek het die funksie baie geniet,” het le Roux bygevoeg.

Om terug te kom by die Randpoort Renaissance se 25ste bestaansjaarvieringe het ‘n ander inwoner Kotie de Beer gesê dié oord is op 2 Julie 1989 gestig en sedertdien gegroei van krag tot krag.

De Beer het ook tydens die geleentheid elkeen teenwoordig vir hul jare lange vriendskap en betrokkenheid by die oord bedank.

“Ons is so geseën by Randpoort Renaissance en ek kan nie genoeg dankie sê aan ons Skepper vir die seëninge wat Hy oor die oord uitstort nie,” het de Beer gesê.

Om by te dra tot die feestelikheid, het twee plaaslike kunstenaars, Danny en Joofie, die gaste met hul musiektalent kom vermaak.

Die dag was ‘n reuse sukses en elkeen teenwoordig het die geleentheid terdeë geniet.

Vir meer fotos: Kliek hier

Exit mobile version