Rappies hou welpierugby dag

Laerskool Rapportryer se welpie rugbyspelers wys hul staal gedurende hul welpierugby dag.

Met groot entoesiasme het sewe deelnemende skole die koue trotseer om aan Laerskool Rapportryer se Welpierugby dag deel te neem.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Rapportryer, Roleen Olivier, het 430 welpie rugbyspelers het gedurende die geleentheid in verskillende ouderdomsgroepe sake teen mekaar uitgespook.

“Met die eerste rondte wedstryde wat alreeds om 8vm begin het, moes twaalf van die 40 spanne goed strek om die ysige wind af te weer.

“Die wedstryde het bestaan uit twee helftes van tien minute elk.

“Die twintig minute mag dalk nie na veel klink vir die geharde rugbyspeler nie, maar dit was meer as genoeg vir die o.6 tot o.8 welpies om hulle staal te wys,” vertel Olivier.

Hardlooprugby is hier aan die orde van die dag en dit gebeur vele kere in ‘n wedstryd dat punte aangeteken word nadat die bal mooi uitgegee in die agterlyn is.

“Van bal steel kan jy dié seuns ook nie veel leer nie.

“Aangesien hulle nie sommer van die bal afstand wil doen nie, word die bal menige kere uit ‘n opponent se hande gesteel,” vertel Olivier.

Sy vertel verder dat kontakrugby eers van o.7 af gespeel word en die o.6 mannetjies het eers ‘n vorm van raakrugby gespeel.

Dié vorm van rugby is aangeneem met die doel om eers op balvaardighede en veiligheid te fokus.

“Dit is baie duidelik in die feesviering nadat ’n drie gedruk is dat die jong welpies hierdie vorm van rugby baie geniet en sommer binnekort waardige volkontak rugbyspelers sal wees,” vertel Olivier.

Die geleentheid word jaarliks deur meer en meer skole en ouers ondersteun en Rappies bedank almal wat die dag bygewoon het.

“Ons hier by Rappies is seker dat Welpie rugbydae soos dié help om elke deelnemer se vaardighede op die sportveld te bevorder en kan nie wag om te sien hoeveel skole volgende jaar deelneem nie,” vertel Olivier.

Exit mobile version