Riebeeckrand hokkie blink uit

Hoërskool Riebeeckrand beleef vanjaar 'n puik hokkieseisoen en het met hul puik resultate na die semi-finaal van hul liga deurgedring.

Hoërskool Riebeeckrand se hokkiespelers het weer gewys dat hulle een van die top hokkieskole in hul liga is toe hulle teen Hoërskool Careltonville kragte gemeet het.

“Al ons spanne het tydens die geleentheid geseevier met puik tellings in elke ouderdomsgroep,” vertel skoolbemarker Rickus Kruger.

Volgens Kruger het die o.14 dogters met ‘n telling van 1 – 0 gewen het, terwyl die o.16 spelers met ‘n eindtelling van 5 – 1 koning gekraai het.

Die tweede span van Hoërskool Riebeeckrand het met ‘n telling van 4 – 0 gewen en die eerstes het hul opponente met ‘n 5 – 0 nederlaag terug kleedkamers toe gestuur.

“Met dié puik resultate, het al Riebeeckrand se spanne deurgedring na die semi-finale rondte van hul liga en sal hulle binnekort uitspeel om na die finale rondte deur te dring,” vertel Kruger.

“Die 2014-hokkieseisoen is so ver ‘n seisoen wat ons almal by Rierand vir nog lank sal onthou.”

“Ons bedank elkeen van ons afrigters vir die ure wat elkeen van hulle saam met die spelers op die veld spandeer.

“Die vrugte van julle harde werk word werklik nou gepluk,” vertel Kruger.

Exit mobile version