NewsSchools

Jannas pom-poms wen gesogte kompetisie

Jannas pom-poms kraai koning tydens NEA se young performers awards

Na talle optredes en beoordeling het Hoërskool Jan Viljoen se pom-poms tydens die finale rondte van die Nasionale Eisteddfod se 11de jaarlikse Young Performers Awards koning gekraai.

Die finale rondte van dié nasionale kompetisie het onlangs in die Atterbury Teater in Pretoria plaasgevind.

Volgens die spanbestuurder van Jannas pom-poms Retha Rossouw, het die reis tot die finale rondte gedurende 2013 begin toe die Jannas Pom-Poms aan die Nasionale Eisteddfod deelgeneem en met ‘n diploma weggestap het.

“Hulle het tydens die Eisteddfod gekwalifiseer om aan die Young Performers Awards deel te neem en op 7 Maart vanjaar het hulle die eerste rondte van dié gesogte kompetisie aangedurf,” vertel Rossouw.

Met puik kommentaar van die beoordelaars af, het die pom-pom groep deurgedring na die kwart-finaal, semi-finaal en uiteindelik die finaal.

Rossouw verduidelik dat daar gedurende die 2013 Eisteddfod 1385 items in die dans kategorie ingeskryf is en dat die Jannas Pom-Poms uit al dié items gekies is om aan die Young Performers Awards deel te neem.

“Ons het vanjaar baie hard geoefen en spog met groot sukses.

“Die reis tot by die finale rondte was ‘n groot eer en elke pom-pom danser het baie van hulself en die span op die wyse geleer,” vertel Rossouw.

Tydens die finale rondte het die Jannas Pom-Poms teen vier ander items op nasionale vlak meegeding en uiteindelik met die titel van algehele wenners in die dans kategorie weggestap.

“Ons as groep is werklik trots op dié prestasie en bedank elke persoon wat ons tot sukses gelei het.”

Related Articles

Back to top button