Kisha is ‘n wêreldklas danser

Kisha dos Santos het weer vanjaar bewys dat groot dans potensiaal in klein pakette kom.

Laerskool Rapportryer se eie Hip-Hop sensasie, Kisha dos Santos, is beslis ‘n krag om mee rekening te hou en bewys dit tydens elke danskompetisie waar sy deelneem.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Rapportryer, Roleen Olivier, is Kisha ‘n geregistreerde danser by die Sipalay Advocate Dance Club Association (SADCA) en neem in elke danskompetisie op internasionale vlak deel.

“Kisha het in ‘n kwessie van ‘n jaar soveel verbeter in haar dans dat sy in dié kort tydperk van ‘n amateur tot ‘n WCC (World Cup Cheer and Dance) danser bevorder is,” vertel Olivier.

Sy vertel verder dat Kisha ‘n dansstudent by Mario Gomes Hip-Hop Dans Akademie is en baie hard werk om so goed te presteer.

Dié klein danser neem ook in ‘n verskeidenheid dansitems deel en blink in die solo danse, duet danse asook in groepsformaat uit.

“Kisha is beslis oppad na roem en word reeds gesien as een van Suid-Afrika se blinkste toekomstige sterre,” vertel Olivier.

“Ons almal by Laerskool Rapportryer, asook haar ouers, vriende en familie is baie trots op haar en glo dat Suid-Afrika nog baie van dié energieke danser gaan hoor.”

Exit mobile version