Local newsNews

Orion Olywe hier om te bly

Hettie du Toit vertel van haar sukses in die olyfbedryf.

Vir die afgelope agt jaar beweeg Hettie duToit en haar geliefde besigheid Orion Olywe, van krag tot krag en lewer jaarliks ‘n puik oes van hoë gehalte tafel en olie olywe.

Du Toit vertel dat haar hoewe op Louwmarina oorspronklik ‘n groenteboerdery was, maar na die hoeveelste keer wat dié boerdery se groente oornag uit die grond gesteel is, het sy en haar orlede man Frans, besluit dat dit nou die tyd is om te begin boer met iets wat nie gesteel sal word nie.

“Ek is mal oor die olyfboerdery,” sê Du Toit.

“Dit hou my besig en dra ook vir my as mens baie geestelike simboliek.”

Sy verduidelik dat daar talle verwysings na die olyfboom- en- plant in die bybel verskyn.

“Vir jare lank is die olyf ook ‘n bron van medisyne en talle studies het bewys dat olyfolie selfs siektes soos kanker kan voorkom.”

Du Toit vertel dat sy tans sowat 10 000 olyfbome in haar boord het en jaarliks tot soveel as 50 kilogram olywe vanaf elke boom oes.

“Alhoewel baie mense dink dat ‘n olyfboom nie baie aandag verg nie, is dit glad nie die geval nie.

“Ek en my werkers werk regdeur die jaar baie hard om ‘n goeie oes te verseker,” vertel Du Toit.

Sy verduidelik dat die proses jaarliks by die snoei van die bome begin.

Dié proses vind tussen Junie en Augustus plaas.

Vanaf September tot November behandel Du Toit en haar werkers die bome met genoegsame voeding, water en sproei hulle teen natuurlike peste.

Daarna word die bome vir sowat twee tot drie maande alleen gelaat.

“Ons begin gewoonlik so teen middel Februarie te oes en die oestyd duur dan tot Junie waarna ons dadelik weer begin om die bome te snoei.”

Sy vertel verder dat haar werkers binne 48-uur vandat die olywe gepluk is die vrugte deur die pars voer om sodoende die beste kwaliteit uit die olyf te verseker.

“Alhoewel dit ideal is om die oes binne 48-uur te pars, is dit nie altyd moontlik nie, maar darem beskik ons oor puik koelkamers om dan die olywe in top kondisie te hou totdat ons dit kan pars,” vertel Du Toit.

Hoewel baie mense dink dat daar net een tipe olyf is, vertel Du Toit dat mens twee tipes olywe kry – beide te vinde op haar hoewe.

“Die een olyf staan bekend as die tafelolyf en het ‘n baie groter hoeveelheid vleis om die put as die olie olyf.

“Die olie olyf bestaan uit sowat 20 persent olie, terwyl die tafel olyf aansienlik minder olie bevat,” vertel Du Toit.

Du Toit en haar span van ses permanente werkers verwerk dan dié olywe tot allerhande heerlike produkte.

Alhoewel die hoofproduk natuurlik olyfolie is, maak hulle ook patee, pesto, kaponada, tapenade, salsa, blatjan en selfs marmelade met die olywe.

“Ek geniet die olyfplaas elke dag net meer en meer.

“Daarom is dit vir my lekker om dié gevoel met ander te deel deur toere vir mense te reël.

“Tydens dié toere gaan wys ons hulle die boord en hoe die produksielyn werk.

“Ek lewer ook dan insiggewende praatjies om hulle in te lig oor hoe die proses werk,” vertel Du Toit.

“Die olyfboom staan ook bekend as die ewige boom en ek het al gehoor van bome wat steeds na 3500 jaar vrug dra.

“Daarom glo ek dat Orion Olywe hier is om deel van die Randfontein gemeenskap te bly.”

Vir meer navrae oor die boerdery en om toere te bespreek, skakel gerus vir Hettie du Toit by 082 828 1334.

Let wel dat daar meer as tien mense moet bespreek om ‘n toer te bevestig.

Related Articles

Back to top button