Rappies netbal seevier

Laerskool Rapportryer se netbalspanne floreer tydens die Jomo-liga.

Laerskool Rapportryer se netbalorganiseerder Magda Swart en haar bestuurspan het besluit om vlerke te sprei en uit die distrik na die Jomo-liga.

Volgens die skakelbeampte vir Laerskool Rapportryer, Roleen Olivier, was dit ‘n baie groot uitdaging, maar die Rappies netbalsterre het hulself baie goed van hul taak gekwyt.

Olivier vertel verder dat mededingende skole in die liga Westfields Primary, Trinity Primary, Laerskool Generaal Christiaan de Wet, Laerskool Horison en Laerskool Florida was.

“Die kompetisie was baie sterk, maar Rappies se netbalspelers het beslis nie terug gestaan nie,” vertel Olivier.

Dit is met groot trots dat Laerskool Rapportryer kan sê dat hulle A, B en C spanne vir al die ouderdomsgroepe na dié liga kon stuur.

“Sodoende kon meer leerlinge deelneem en ‘n geleentheid vir verbetering en ontwikkeling van die sport en hul vaardighede geniet,” meen Olivier.

“Dit het baie goed met ons spanne gegaan en hulle het heelwat van die wedstryde gewen.”

Die netbal organiseerders en bestuur van Rappies is veral trots op hul o.11A en o.10B spanne wat beide balkies as ligawenners ontvang het.

“Laerskool Rapportryer se o.11A span was onoorwonne tydens die Jomo-reeks en sal op 20 en 21 Junie aan die Winter Games deelneem.

“Ons glo ook dat hulle van daar af na die Gauteng proewe sal deurdring,” vertel Olivier.

Exit mobile version