Manne van die Woord geniet suksesvolle golfdag

Manne van die woord geniet 'n potjie golf op Randfontein Golfbaan tydens hul eerste golfdag.

Die welbekende nie-winsgewende organisasie Manne van die Woord se Randfontein tak spog met groot sukses tydens hul eerste golfdag.

Volgens die voorsitter van Manne van die Woord Flip Engelbreght, het dié golfdag op Vrydag 16 Mei, by Randfontein Golfbaan plaasgevind.

Hy vertel verder dat talle manne van regoor die Wes-Rand na Randfontein gestroom het om aan die golfdag deel te neem.

“Met uitstekende weer en lekker geselskap het die manne om 12nm afgeslaan en kort voor lank was al die manne klaar met die 18-puitjies,” vertel Flip.

“Ons was ook baie bevoorregd om die oud-Springbok-rugbyspeler Vleis Visagie saam met ons op die golfbaan te hê.”

Vleis het die oggend saam met die manne geniet en alhoewel dit ‘n pretbelaaide dag was, het die manne steeds hul harte uitgespeel om die eerste plek te verower.

Na afloop van die golfdag, het die manne hul punte ingedien en lekker saam gekuier.

Volgens Flip het die prysuitdeling later die aand, tydens Manne van die Woord se biltong en brood aand, by Hoërskool Jan VIljoen plaasgevind.

“Die dag was ‘n reuse sukses en elkeen wat die dag bygewoon het, het dit terdeë geniet,” vertel Flip.

Flip en sy span van Manne van die Woord bedank elke persoon wat die golfdag bygewoon het asook elke individu en besigheid wat die dag geborg het.

“Sonder julle sou die dag nie so ‘n groot sukses gewees het nie,” sê Flip.

Exit mobile version