Rammies speel kelner by Randfontein Spur

Laerskool Randfontein se Graad 7 leiers speel kelner by Randfontein Spur as deel van hul fondsinsamellingsprojek.

Laerskool Randfontein (Ram) se Graad 7 leerlingraad het die geleentheid gehad om by Randfontein San Pedro Spur kelner te speel as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan, het 20 van Ram se leerlinge op 13 Mei skaduskofte by die Spur gewerk.

“Die leerlinge het vanaf 5nm tot 8nm die kelners by die Spur gehelp en saam met hulle die tafels bedien.

“Die leerlinge het dit baie geniet en ook sommer baie van menseverhoudings en beplanning geleer,” vertel Annie.

Sy vertel verder dat Spur ook 10 persent van die wins vir dié tydperk aan die leerlingraad gegee het.

Die leiers het tydens dié geleentheid R2 794 ingesamel.

“Al die fondse wat die leerlingraad op die wyse ingesamel het, sal aangewend word vir hul Graad 7 afskeidsgeskenk aan die skool,” vertel Annie.

“Ons is opreg dankbaar vir die geleentheid en bedank Randfontein San Pedro Spur vir die inisiatief.

“Dit is vir ons ‘n riem onder die hart om te sien dat besighede in die gemeenskap ons ondersteun,” vertel Annie.

Exit mobile version