Ram stel hul nuwe skoolkoerant bekend

Laerskool Randfontein is baie trots op hul nuwe skoolkoerant wat onlangs bekendgestel is.

Laerskool Randfontein (Ram) het ‘n geleentheid vir verbetering in hul bemarking raakgesien en besluit om hul eie skoolkoerant bekend te stel.

Volgens die skakelbeamte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan, behaal die Ram-leerlinge verskeie groot prestasies en sal hulle dié koerant gebruik om erkenning aan hulle te gee.

“Behalwe vir die puik prestasies wat gepubliseer sal word, sal ons ook erkenning aan die alledaagse skoolaktiwiteite gee,” vertel Annie.

Sy sê dat hulle onlangs ‘n redaksiespan saamgestel het.

Dié span bestaan uit 14 Graad 6- en 7-leerlinge onder leiding van Celeste Flemming as redakteur en Annie Nolan as die grafiese ontwerper.

Die redaksie-leerlinge is verantwoordlik om die navorsing te doen, onderhoude te voer, berigte te skryf en die foto’s te neem.

“Die leerlinge het hulle besonders goed van hul taak gekwyt en die eerste skoolkoerant is aan die begin van die tweede kwartaal uitgegee.

“Elke leerling in die skool het ‘n gratis koerant ontvang en dis ook in die gemeenskap verspei,” vertel Annie.

Na die sukses van die eerste koerant is daar besluit om dit ‘n instelling by Ram te maak en daar sal nou elke kwartaal ‘n koerant uitgegee word.

Exit mobile version