Local newsNews

Die liefde blom steeds na 50-jaar

Vir Attie en Alida Knoetze het 50-jaar van die getroude lewe verby gevlieg en is hulle steeds net so verlief soos op hul troudag.

Randfontein — Attie en Alida Knoetze stap nou al vir 50-jaar hand aan hand en leef steeds elke dag met die liefde wat hulle op hul troudag aan mekaar belowe het.

Toe die herald vir Alida vra hoe sy vir Attie ontmoet het, het sy met ‘n glimlag dié storie begin vertel:

“Ek en my vriendin was met vakansie in Port Elizabeth en oppad terug treinstasie toe dit baie hard begin reën het.

“Met ons aankoms by die stasie was ons altwee papnat gereën, maar het maar met ons nat klere op die trein geklim.”

“Attie, wat op daardie stadium ‘n kelner op die trein was, het toe sy kam vir my gegee om my hare uit te kam en dit was die einde van dit – of so het ons gedink.”

‘n Geruime tyd later kruis dié twee se padjies weer en Attie vertel dat hy en Alida toe begin uitgaan het.

“Ons het nie baie lank uitgegaan voor ek besef het Alida is die vrou saam met wie ek die res van my lewe wil spandeer nie,” vertel Attie.

Dié twee is op 7 Maart 1964 in Roodepoort getroud.

Vandag, na 50 goue jare saam, doen Attie en Alida alles saam.

Alida vertel dat hulle geen huishulp het nie en dat sy en Attie steeds saam in die tuin werk, huis skoonmaak en selfs stryk.

“Ons is werklik geseën met ‘n besondere huwelik en dit alles is net deur die genade van God,” vertel Alida.

Attie en Alida spog met drie kinders – twee seuns en een dogter, asook sewe kleinkinders.

Beide Alida en Attie reken die resep agter hul sukses is beslis respek, spanwerk, eerlikheid, liefde en geloof.

“As jy dié aspekte in jou huwelik toepas en nooit kwaad gaan slaap nie, gaan 50 gelukkige jare in ‘n oogwink verby,” vertel Attie.

Related Articles

 
Back to top button