Ferreiras blink uit by SA’s

Beide Lizerie en Ezra Ferreira van Hoërskool Riebeeckrand wys hul staal gedurende die Suid-Afrikaanse Skole en Klub Atletiek Kampioenskappe.

Beide Lizerie en Ezra Ferreira, van Hoërskool Riebeeckrand, het onlangs aan die Skole- en Klub Suid-Afrikaanse Atletiek Kampioenskappe deelgeneem en hulself puik van hul taak gekwyt.

Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger, is Lizerie as die kaptein van die Gautengspan wat in Polokwane deelgeneem het, gekies.

“Lizerie het weer tydens die geleentheid gewys dat sy die beste in die land is en het ‘n eerste plek in die 800m vir dogters o.18 en ‘n tweede plek in die 1500m vir dogters o.18 behaal. Dit nadat sy tydens die 1500m geval het,” vertel Rickus.

Ezra het ‘n puik wedloop gehad en het ‘n eerste plek in die 800m vir seuns o.15 behaal.

Hy het ook die nasionale rekord in dié kategorie verbeter.

Die Klub SA Kampioenskappe het in Stellenboch plaasgevind waar al die beste atlete wat aan klubs behoort deelgeneem het.

“Weereens het ons atlete uitgestaan en pragtig presteer,” vertel Rickus.

Lizerie het ‘n tweede plek in die 800m en ‘n eerste plek in die 1500m behaal.

“Ezra het ‘n algehele derde plek in die 800m en ‘n vierde plek in die 1500m behaal,” vertel Rickus.

“Baie geluk aan Lizerie en Ezra wat as nasionale kampioene gekroon is.

“Hoërskool Riebeeckrand is baie trots op julle.”

Exit mobile version