Kunsleerlinge sien hoe die lewe destyds was

Hoërskool Jan Viljoen se kunsleerlinge leer meer oor die kunste tydens hul uitstappie na die Pioneers- en- Kunsmuseum.

Hoërskool Jan Viljoen se kunsleerlinge het op 14 Maart die wêreld van die kunste gaan ontdek toe dié groep leerlinge en hul onderwysers, Marthie van Deventer en Yvonne Bouwer die Pioniersmuseum asook die Kunsmuseum in Pretoria gaan besoek het.

“Al die leerlinge was verbaas om te sien hoe die pioniers geleef het. Die kunste van vroeër kan tog nie vir leerlinge betekenis hê as hulle nie verstaan hoe die lewe in daardie tyd was nie. Daarom was dit vir ons as onderwysers ‘n voorreg om dié leerlinge meer van die pioniers en hul kuns te leer,” vertel Marthie.

Hulle het onder andere gesien hoe die mense hul onmiddellike omgewing met die minimum probeer versier het, en hoe hulle destyds kerse gemaak en velle gebrei het.

“Die leerlinge kon self brood knie en botter maak. Hulle het ook gesmul aan heerlike warm brood wat in ‘n miershoop-oond gebak is,” vertel Marthie.

“Almal het dit baie geniet en sommer ook talle nuwe dinge geleer.”

Na hul opwindende buitelugervaring by die Pioniersmuseum is die leerlinge by die Kunsmuseum blootgestel aan die kunswerke van Pierneef, wat werklik ‘n ikoon in die Suid-Afrikaanse kunswêreld is.

Die galery was verlede jaar baie in die nuus want verskeie skilderye deur groot name is daaruit gesteel. Daar word tans nog een skildery vermis.

“Die kunsleerlinge het verskeie kunswerke in die museum bestudeer wat almal deel vorm van die Graad 10- tot 12-kurrikulum,” sê Marthie.

Die leerlinge en onderwysers het die dag eindeloos geniet en dit was duidelik hoekom Jan Viljoen se Kunsuitstappie-dag jaarliks ‘n groot gebeurtenis op die Jannas-kalender is.

Exit mobile version