Akademia hou sakeplankompetisie

Skryf nou jou sakeplan vir die Akademia Nasionale Sakeplankompetisie in en staan 'n kans om groot prysgeld te wen.

Akademia hou weer vanjaar die nasionale Akademia Sakeplankompetisie met prysgeld ter waarde van meer as R300 000 en nou is jou kans om dié prysgeld te wen.

Dié kompetisie, wat die grootste Afrikaanse sakeplankompetisie van sy soort in Suid Afrika is, spog reeds met nasionale en internasionale belangstelling in van sy 2013-wenners.

Die Akademia Sakeplankompetisie wat in 2013 begin is se doel is om voornemende en gevestigde entrepreneurs na die basisdokument van hul besighede – hul sakeplan – terug te bring.

Rob Davies, die Minister van Handel en Nywerheid, het onlangs aangetoon dat bykans vyf uit elke sewe nuwe klein besighede jaarliks in die stof byt.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is die doel van die kompetisie om energie vir entrepreneurskap los te maak en om entrepreneurs bewus te maak van die belangrikheid van ‘n sakeplan.

“Die volhoubaarheid van klein en mediumgrootte besighede is van uiterste belang ten einde volhoubare werkskepping in Suid-Afrika te verseker,” vertel Marthinus.

Die 2014 sakeplankompetisie spog met vennote soos Investec Batebestuur, die Atterbury Groep, die ATKV, Mentor 24, Maroela Media, Business Partners, eNuus en Sake van Media24.

Verskeie AHI-sakekamers soos die CCBC in Pretoria, die groter Tygerberg Sakekamer, asook die provinsiale AHI-streke in die Wes-Kaap en Vrystaat ondersteun reeds hierdie opbouende projek.

Daar is ook groot pryse op die spel. Semifinaliste van die kompetisie sal gratis werkswinkels kan bywoon waar hul sakeplankennis deur kenners uitgebrei sal word.

Belangstellendes word herinner dat die sluitingsdatum vir inskrywings 19 Mei is. Belangstellendes moet hul sake-idee aanlyn indien.

Afgesien van die kompetisie beplan Akademia twee entrepreneurseminare wat op 14 Mei in Bellville en 15 Mei in Pretoria sal plaasvind. Bekende sprekers sal tydens die geleenthede optree en hul kennis en ervaring met deelnemers deel.

Vir meer inligting oor die kompetisie en seminare, besoek Akademia se webblad by www.akademia.ac.za, of deelnemers kan “sakeplan”, hul naam en van na 34933 SMS. SMS’e kos R2.

Exit mobile version