Local newsNewsSport

Rotariërs loods ‘n ultra-fietstoer

Die Rotariërs doen 'n beroep op die gemeenskap om deel te wees van hul eerste ultra-fietstoer.

Verskeie dorpe en stede in Suid-Afrika en Namibië gaan besoek word as deel van ’n nege-dae fietstoer,

Rotariërs en ywerige fietsryers gaan 1 609km in die eerste jaarlikse fietstoer aflê, waartydens die ryers verskeie gemeenskapsprojekte gaan besoek.

Die “Rotary Tour Deux Déserts” – Toer van Twee Woestyne: die Namib en Kalahari sal op 18 April by Maropeng net buite Krugersdorp afskop. Die eerste sessie sal in Klerksdorp eindig.

Die fietsryers word deur ’n kameraspan en ondersteuningsgroep vergesel wat na hulle sal omsien.

Fondse wat ingesamel word, sal gebruik word om veeldoelige sportvelde by skole in minderbevoorregte gemeenskappe te bou.

Dit sal kinders die geleentheid bied om verskeie sportsoorte te beoefen in ’n veilige omgewing. Dit skep ook die geleentheid vir die skole om ander skole in die omgewing te nooi vir sportkompetisies.

Die fietstoer bied individue, besighede en die korporatiewe sektor die geleentheid om by die kinders en hulle gemeenskappe betrokke te raak. Deur sport kan gemeenskappe kinders help oplei en sodoende hulle ’n beter kans gee in die lewe.

Die toer ondersteun ook die anti-dwelm projek wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Polisie geloods is.

Toerlede gaan brosjures by skole op die roete uitgee en so die bewusmaking aanhelp.

Die Departemente van Justisie, Korrektiewe Dienste en Gesondheid is ook by die projek betrokke.

Die burgemeester van Mogale City, Calvin Koketso Seerane gaan deur die fietsryers ’n boodskap aan die burgemeester van Lüderitz, Hambelela Suzan Ndjaleka stuur.

Dit is simbolies van die ou gebruik om boodskappe persoonlik af te lewer, en Maropeng verteenwoordig die begin van die mensdom.

Die toer sal verfilm word vir ’n dokumentêr oor die daaglikse gebeure op so ’n toer. Dit sal ook historiese plekke op die roete en van die skole insluit.

Een van die ondersteuners van die projek, Safe Sport Tracking, maak seker dat die gebeurtenis op die internet gevolg kan word deur middel van Google Maps. Dit sal ’n lewendige opdatering wees wat elke paar minute sal aanpas.

Die energiedrankies en kos is volledig geborg en Maropeng het die basis geword van die jaarlikse toer.

Die Rotariërs beoog om die toer so uit te brei dat hulle enige plek in Suid-Afrika ’n projek kan ondersteun met behulp van die borge en fietsryers wat bereid is om terug te gee aan die gemeenskap.

Rotary Internasionaal is ’n wêreldwye organisasie wat gemeenskappe dien met meer as 1,2 miljoen lede in meer as 200 lande.

Rotariërs bied hulle dienste en tyd aan minderbevoorregte gemeenskappe om ’n verskil te maak in hulle leefwyse.

Die Klub is ‘n niewinsgewende organisasie en glo in deursigtigheid.

Indien jy sou belangstel om die toer te ondersteun is daar verskeie maniere om dit te doen – van ’n borg per dag tot enige van die vele items op die wenslys te skenk.

Indien jy belangstel om ‘n borg te wees of ’n donasie te doen, kontak Steve du Plessis by steve@rotarycycletour.org of 082 893 4211.

Mense kan ook hul webwerf by www.rotarycycletour.org besoek.

Related Articles

Back to top button