Gebedsgroep bid vir die gemeenskap se versoeke

Johan Dreyer en sy span intersessors streef daarna om die gemeenskap se versoeke aan God in gebed op te dra.

Die gebedsversoeklyn wat gedurende 2012 gestig is, is reeds ‘n groot sukses en beweeg van krag tot krag voort.

Dié gebedsversoeklyn stel behoeftiges in die gemeenskap in staat om hul versoeke na een van die stigters, Johan Dreyer, en sy span intersessors te SMS en hulle sal dan vir dié versoeke bid.

Johan vertel dat die gebedsversoeklyn al reeds ‘n groot sukses is en dat baie mense se lewens op die wyse aangeraak is.

“Ons hele span intersessors bid daagliks vir die gemeenskap se versoeke en streef daarna om elke versoek aan God in gebed op te dra.

“Daarom kan elkeen wat ‘n gebedsversoek het, dit vir ons SMS en ons sal jou belange op die hart dra,” vertel Johan.

Hy vertel dat hulle al baie terugvoer gekry het van waar Jesus mense se lewens aangeraak het nadat hulle van dié SMS-lyn gebruik gemaak het.

Johan en sy span doen ook ‘n versoek op diegene wie se gebede al reeds verhoor is om ‘n getuienis aan hulle te skryf en na Posbus 3059, Randgate, 1763 te pos.

“Ons sal dit hoog op prys stel om te sien hoe ons werk in Jesus ander mense se lewens verryk,” sê Johan.

Hy wil ook net van die geleentheid gebruik maak om aan elke persoon wat saam met hom vir die versoeke bid dankie te sê vir hulle hulp en gehoorsaamheid teenoor God.

“Die Woord vertel ons dat daar waar twee of meer saamstem oor ‘n saak, sal dit so wees. Daarom weet ek dat wanneer ons bid vir dié versoeke, sal Jesus antwoord gee,” vertel Johan.

Hy vertel ook dat God werklik ‘n waarmaker van Sy woord is.

“Daarom gee ons alle eer aan God vir al die gebede wat Hy al reeds verhoor het, asook vir die wat Hy nog gaan verhoor,” sê Johan.

Exit mobile version