NG-kerk Noord vier 50 goue jare

Die NG Kerk Randfontein Noord vier vanjaar 50 goue jare as deel van die Randfontein gemeenskap.

Die NG Kerk Randfontein-Noord het op 5 Maart sy vyftigste verjaarsdag feestelik met koek en tee gevier.

Die fees is die naweek van 7 tot 9 Maart voortgesit met ‘n feesdinee die Vrydagaand, ‘n ontbyt vir oud-leraars en ringkollegas Saterdagoggend, Nagmaalsviering die Sondagoggend en belydenis van geloof deur ‘n groep jong lidmate die Sondagaand.

Twee vorige leraars, Heinrich Viljoen en Llewellyn Oliver, het die Woordbediening gedoen.

Al die gemeente se huidige en vorige leraars het deelgeneem aan die bediening van die nagmaal.

Die gemeente het op 5 Maart 1964 in die saal van die Laerskool Randfontein tot stand gekom nadat beide die Ring van Randpoort en die kerkraad van die Randfontein-gemeente toestemming gegee het vir die stigting van ‘n nuwe selfstandige gemeente in Greenhills.

Die Randfontein-gemeente het dadelik ‘n pastorie in Kennethweg sowel as 1,5 morg grond langs die pastorie as bruidskat aan die nuwe gemeente gegee.

Dominee Frik Horn is as die eerste leeraar van dié gemeente beroep

Gedurende Oktober 1964 besluit die kerkraad om hul eie kerkgebou op te rig en op 28 Oktober lê Frik Horn die hoeksteen van dié kerkgebou.

Die gemeentesentrum word in 1998 vergroot en kry sy kenmerkende pers afwerking.

Sedertdien is die gemeente in die gemeenskap bekend as: ‘die pers kerk’ of sommer net ‘die kerk oorkant die Spur’.

Die gemeente bestaan tans uit 1 800 doop- en belydende lidmate en het ‘n trotse geskiedenis van betrokkenheid in die gemeenskap.

Vanaf sy ontstaan het predikante, kerkraadslede en lidmate in vennootskap met skole, gemeenskapsorganisasies en die sakegemeenskap gewerk om mense in nood te ondersteun en ‘n gesonde gemeenskap te skep.

Meer as twee en ‘n half miljoen rand is die afgelope sewe jaar vir uitreike en gemeenskapsprojekte beskikbaar gestel en aangewend.

As deel van die gemeentelike feesvieringe in 2014 word, benewens bestaande projekte, verskeie nuwe projekte beplan.

Elke groep, gesin en lidmaat van die gemeente word uitgedaag om in hierdie feesseisoen te onderskei watter oop deure God gee om sy goedheid en guns met alle ander mense te kan deel.

Die uitgebreide bedieningspan staan onder leiding van Gert Cordier, Johan Fourie en Wimpie Kritzinger.

Jeanne Fourie hanteer die bediening in die breër gemeenskap, terwyl Koekoes Cordier verantwoordelik is vir publieke skakeling.

Die kerkkantoor kan gedurende kantoorure by 011 412 3996 gekontak word vir meer inligting.

Die gemeentelike leierskap wil graag dankie sê aan al die gemeentes, skole, sakelui en leiers in die gemeenskap met wie hulle kan hande vat en kan saamwerk vir ‘n gesonde gemeenskap.

En veral wil hulle God dank vir sy goedheid en guns oor die afgelope vyftig jaar.

Exit mobile version