Ram atlete blink uit by Gauteng-kampioenskappe

Laerskool Randfontein eindig hul atletiekseisoen op 'n hoë noot tydens die Gauteng Atletiek Kampioenskappe.

Laerskool Randfontein (Ram) het vanjaar hul atletiekseisoen op ‘n hoë noot, tydens die Gauteng Atletiekkampioenskappe afgesluit.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan, het ses van hul atlete onglangs aan die Gauteng Atletiek Kampioenskappe by die LC de Villiers Stadion in Pretoria gaan deelneem.

Dié atlete is Andri Prinsloo, Michaela Lubbe, Berejean Domoney, Clarise Brits, Anri Naude en Tiaan Barnard wat ook deel van die Gauteng-Wes span was.

“Dit was ‘n baie nat reënerige dag, maar die atlete wat vergesel is deur Annaly Visser en Magda Graaff, het nog steeds hul beste prestasies gelewer,” vertel Annie.

Atlete van reg oor Gauteng het aan die byeenkoms deelgeneem en die kompetisie was uiters sterk.

Drie van die ses Ram atlete het deurgedring na die finale rondte van die kompetisie en al drie dié atlete het onder die eerste vyf geëindig.

Anri Naude het ‘n algehele vierde plek in die 100m vir dogters o.10 behaal en Clarise Brits het ‘n vyfde plek in die 200m dogters o.13 behaal.

“Ons is ook uiters trots op Tiaan Barnard wat ‘n tweede plek in die o.12 gewigstoot behaal het.

“Hy het ‘n distansie van 11.02m behaal.

“Tiaan is opgeneem in die Gautengspan en gaan nou aan die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe op 20 en 21 Maart in die Paarl deelneem,” vertel Annie.

Exit mobile version