Local newsNews

Huis Eldad, ‘n heenkome vir die minderbevoorregde

Huis Eldad streef daarna om 'n beter lewe vir hul minderbevoorregde kinders te verseker en nooi die gemeenskap uit om by hul sukses betrokke te raak.

Huis Eldad is al vir verskeie jare ‘n heenkome vir HIV positiewe kinders asook gestremde kinders.

Daarom is dit die huis se doel om die kinders van kindsbeen af op te voed om waardige burgers van ons land te word.

Stigter van die huis, Pastoor Gerrit Pretorius vertel dat die huis altyd uit twee wonings wat op die selfde erf geleë is, bestaan het.

Dit het intussen verander en Huis Eldad is nou slegs een huis wat vir agt kinders ‘n heenkome bied.

Die huis word nou as ‘n sateliet-huis beskou en mag slegs agt kinders huisves.

Die kinders in die huis is ook onder die toesig van ‘n ouerpaar wat na die kinders se behoeftes omsien.

“Op die wyse kan die ouers meer aandag aan elke kind gee sonder om die ander af te skeep,” vertel Gerrit.

“Die kinders is ook by verskeie skole en kleuterskole ingeskryf.

“Op die wyse weet ons verseker dat die kinders ook ‘n blink toekoms kan hê.

“Huidiglik dra die kerk, AGS Randfontein, al die kostes aan die kinders se skool verbonde, en weens hoë lewenskostes sukkel ons van tyd tot tyd om kop bo water te hou.”

Volgens Gerrit, is dit baie goed om te sien dat soveel mense in die gemeenskap hul harte oopmaak vir die kinders van huis Eldad.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir die bystand wat die publiek aan die instansie gee nie, dit maak werklik ‘n verskil in die kinders se lewe,” vertel Gerrit.

Indien enige iemand ‘n donasie wil maak, hetsy klere, kos of kontant, kan dit by AGS-Randfontein se kerkkantoor ingedien word sodat die bestuur van die instansie die inkomstes en goedere kan kontroleer.

Vir meer inligting, kontak vir Pastoor Gerrit Pretorius by 072 068 7824.

Related Articles

Back to top button