NewsSchool sportSchoolsSport

Ram netbalspelers geniet hul kliniek

Ram se netbalspelers geniet hul netbalkliniek en leer ook sommer baie nuwe tegnieke tydens die geleentheid.

Gedurende die naweek van 28 Februarie tot 2 Maart is die o.9 tot o.13 netbalspelers van Laerskool Randfontein op ‘n netbalkamp net buite Brits gewees en het sommer tydens die geleentheid baie nuwe vaardighede aangeleer.

Die netbalspelers is vergesel deur hul span se afrigters en Janie Fourie, die skool se netbalorganiseerder.

Dit was ‘n naweek van groot pret en opwinding.

Tydens die kamp is daar gefokus op die spelers se vaardighede en spanbou.

Die leerlinge het hulself gate-uit geniet en baie tyd op die netbalbaan spandeer.

Volgens Janie, moes elke dogter haar spanmaats leer ken en leer om haar afrigter te vertrou.

“Dit was ‘n naweek van motivering, waar verskeie vaardighede ingeoefen is.

“Die o.13 spelers het veral die spanbousessies geniet en elke aktiwiteit met ywer aangepak en ‘n mooi voorbeeld vir die jonger spelers gestel,” vertel Janie.

Die netbalkamp is deur uiters bekwame SA-netbalspelers wat hoogs aanbeveel word, aangebied.

“Dit was vir ons as Ram-netbal ‘n voorreg om saam met mense te werk wat ‘n passie het vir hul sport en wat bereid is om hul kennis en ondervinding met ons te deel,” sê Janie.

Die netbalkamp sal ook nou ‘n jaarlikse instelling by Ram wees.

“Ons glo al die nuwe vaardighede wat aangeleer is gaan vrugte afwerp tydens vanjaar se netbalseisoen.

“Die Ram-netbalafrigters is baie positief oor die seisoen en sien uit na hul opkomende wedstyde,” vertel Janie.

Related Articles

Back to top button