Hoërskool Riebeeckrand atlete blink uit

Hoërskool Riebeeckrand se atlete wys hul staal tydens die Cluster Atletiekbyeenkoms en Top 15 Skole Atletiek.

Hoërskool Riebeeckrand se atlete is weer vanjaar in puik vorm en blink uit by elke atletiekbyeenkoms waar hulle deelneem.

Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand Rickus Kruger, het hul atlete op 7 Februarie by Hoërskool Fochville deelgeneem en puik resultate opgelewer.

“Hoërskool Riebeeckrand moes tydens die geleentheid teen skole soos Hoërskool Ferdinant Postma, Hoërskool Carel de Wet en Hoërskool Fochville kragte meet,” vertel Rickus.

“Ons atlete het baie goed gevaar en twee rekords tydens die byeenkoms verbeter.”

Daemian Breedt het die 400m rekord verbeter, terwyl Lizerie Ferreira die rekord in die 1500m laat spander het.

Op 10 Februarie het Hoërskool Riebeeckrand aan die Cluster Atletiekbyeenkoms by Hoërskool Jan Viljoen deelgeneem.

Die byeenkoms is vir o15, o.17 en o.19 atlete en Hoërskool Riebeeckrand spog met hul grootste groep atlete nog om na die volgende rondte deur te dring.

“Kort na die Cluster Atletiekbyeenkoms het Hoërskool Riebeeckrand aan die Top 15 Atletiekbyeenkoms deelgeneem,” vertel Rickus.

Die Top 15 het op 12 Februarie by die Universiteit van Johannesburg plaasgevind.

Die Top 15 is ‘n elite byeenkoms waar slegs die top 15 atlete van elke skool deelneem.

Tydens dié geleentheid moes Riebeeckrand se atlete teen skole soos Kemptonpark, Monument, Helpmekaar, Menlopark en Eldorainge kompeteer.

Hoërskool Riebeeckrand spog met agt medaljes tydens die byeenkoms.

“Ons is werklik trots op ons atlete en sien uit daarna om te sien hoe hulle in die opkomende byeenkomste vaar,” vertel Rickus.

Exit mobile version