ATKV Toekomsrus kondig hul wen digters aan

Die ATKV Toekomsrus tak kondig met trots die wenners van hul eerste digkunskompetisie aan.

Dit is met trots dat die ATKV Toekomsrus tak die wenners van hul eerste digkuns kompetisie aankondig.

Volgens die voorsitter van dié ATKV tak, Lester Fritz, was die tema van die digkompetisie, Psalms vir Toekomsrus.

Hy vertel dat die kompetisie vanaf Oktober tot einde November 2013 plaasgevind het.

“Ons het gedurende die kompetisie sowat 80 inskrywings ontvang en die beoordelaars het behoorlik hul hande vol gehad om die top drie te kies,” vertel Lester.

Die top drie is op 25 Januarie aangekondig.

In die derde plek was René Bibby met haar gedig – Kleintyd.

Jeff Atlee het vir homself die tweede plek met sy gedig, Toekies Psalms, verseker en die wenner van die kompetisie was Kyle Grootboom met sy gedig – Awe ma se kind.

“Met soveel inskrywings en hope talent onder die inwoners van Toekomsrus was die kompetisie ‘n reuse sukses en ons beoog om weer vanjaar die kompetisie aan te bied.”

Lester vertel verder dat die inskrywings wat ontvang is oor ‘n reuse ouderdomsgroep gestrek het en dat selfs laerskool leerlinge vir die kompetisie ingeskryf het.

“Alhoewel die kompetisie ‘n reuse sukses was, het ons nie genoeg inskrywings ontvang om ‘n digbundel uit te reik nie. Daarom sal ons vanjaar weer die kompetisie aanbied om uiteindelik ‘n bundel te publiseer,” vertel Lester opgewonde.

Lester is ook baie trots om te sê dat Valencia Payne en Jacqualine Payne se gedigte al reeds in ‘n bundel, ‘Growing Words’, gepubliseer is.

“Ons as organiseerders was werklik verbaas met die kwaliteit van die gedigte wat ons ontvang het. Daarom wil ek vir Jacelyn Kok bedank wat met die konsep van die digkompetisie vorendag gekom het,” vertel Lester.

Lester bedank ook die beoordelaars wat regdeur die kompetisie betrokke was en uiteidelik die top drie gekies het.

Die beoordelaars was die plaaslike digter en joernalis by die Randfontein Herald – Wayne Kruger, draaiboekskrywer en kunstenaar – Tereska Muishond en biblioteker van die Westonaria Biblioteek – Righardt le Roux.

Exit mobile version