Ram verwelkom hul nuwe hoof

Laerskool Randfontein skop vanjaar met hul nuwe hoof, Leon Haupt, in hul midde af.

Laerskool Randfontein (Ram) het met die begin van die nuwe skooljaar hul nuwe skoolhoof, Leon Haupt, by die skool verwelkom.

Volgens Leon, is hy baie opgewonde om deel van Ram te wees en sien hy baie daarna uit om ‘n pad saam met die onderwysers, leerlinge en ouers van die skool te stap.

Leon vertel dat hy al reeds vir 27-jaar in die onderwys is en voorheen by Laerskool Krugersdorp-Noord as adjunkhoof werksaam was.

“Sedert ek 27-jaar gelede by die onderwys betrokke geraak het, het ek nog net by laerskole gewerk,” vertel Leon.

“Ek het nog altyd my rol as onderwyser by laerskole gesien.

“Ek het ‘n groot passie vir dié leerlinge en voel ek kan ‘n impak om hul lewens maak.”

Behalwe vir Leon se 7-jaar diens by Laerskool Krugersdorp Noord, was hy ook werksaam by skole soos Laerskool Gerrit Maritz, Laerskool Ebenaeser en Laerskool Roodekraans.

“My vyf jaar plan by Ram is om met die hulp van die onderwysers, beheerliggaam en ouers, Ram ‘n skool van uitnemendheid te maak en voort te bou op die suksesse wat die skool in die velede geniet het,” vertel Leon.

“Ek gee ook onderrig by Ram en streef daarna om my Graad 6 klasse by te staan en in klasverband te help met lewensvaardigheidsonderrig.”

Alhoewel Leon se hoof fokus akademie is, beplen hy ook om direk betrokke sportafrigting te wees.

Hy vertel dat hy al vir ‘n geruime tyd as voorsitter van die Gauteng-Wes Krieketvereeninging dien en sal sy kennis in dié sportsoort gebruik om ‘n verskil in Ram se krieketafrigting en bestuur te maak.

“Behalwe vir my betrokkenheid by Ram se krieket, sal ek ook streef om die ander sportsoorte by dié skool te dien en sien ek daarna uit om deel van die wenresep agter Ram se sportleerlinge te wees,” vertel Leon opgewonde.

“My doel as hoof van Laerskool Randfontein is om deel te wees van ons wenspan.

“Daarom wil ek hê die leerlinge van die skool moet my as deel van die onderwysers en bestuur beskou en my in kennis stel as iets hulle hinder.

“Ek glo nog altyd aan ‘n oop-deur beleid en daarom sal my deur altyd oop wees vir die leerlinge, onderwysers en ouers van Laerskool Randfontein,” vertel Leon.

Hy vertel dat hy ouers wil verseker dat Ram se visie ‘waar drome vlerke kry’ uitgeleef sal word en dat alle leemtes of tekortkominge aangespreek sal word.

“Ek sien uit na die toekoms en is trots om deel van Laerskool Randfontein te wees.”

Exit mobile version