Local newsNews

Die vraag vir eiendom gaan vinniger as pryse styg

Voortgesette groei kan in 2014 in die eiendomsmark verwag word.

Voortgesette groei kan in 2014 in die eiendomsmark verwag word na die goeie vertoning die afgelope twee jaar, met toenemende tekorte aan voorraad en huise wat na verwagting vinniger gaan verkoop in reaksie op stygende vraag.

“Ondanks die trae wyer ekonomie en ‘n afname in verbruikersvertroue neem die stroom voornemende huiskopers elke maand toe,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Ons verwag dat dié tendens in 2014 gaan voortduur.”

Berry verduidelik dat Suid-Afrika se bevolking volgehoue groei toon en daar is ook groot opgehoopte vraag weens die stadige pas van nuwe behuisingsontwikkeling sedert 2009 tot laat verlede jaar, sowel as streng kredietbeheer wat die afgelope vyf jaar deur banke toegepas is.

“Daar is verder sterk aanduidings dat die heersende lae rentekoerse nie langer as ‘n jaar volgehou gaan word nie en dat pryse vinniger gaan begin styg namate voorraadtekorte toeneem, veral in die gewildste voorstede van groot stede en metros,” vertel Berry.

Hy sê voorts dat baie verbruikers wat nou eiendom wil koop steeds nie vir huislenings kwalifiseer nie en steeds verblyf sal moet huur totdat hulle skuldvlakke kan verlaag en miskien genoeg vir ‘n deposito kan spaar – en dit moedig beleggers in huureiendom aan om verdere eiendomme by hul portefeuljes te voeg.

“Ons verwag gevolglik dat verkope die opwaartse trajek in 2014 gaan volhou, aangehelp deur banke se groter aptyt om langtermynkrediet soos huislenings toe te staan,” vertel Berry.

Berry sê egter hoewel banke nou meer huislenings toestaan as in enige ander tydperk die afgelope vyf jaar moet dit nie gesien word as ‘n teken dat leningskriteria verslap word nie. “Dit is eerder die gevolg daarvan dat hulle uit ‘n groter poel voornemende kliënte kan kies.

“Banke is ook steeds baie konserwatief ten opsigte van die waardasies van eiendom waarvoor lenings aangevra word en ons verwag dus nie ‘n groot sprong in huispryse nie ondanks die toenemende aktiwiteit in die mark.”

“Ons verwag dat waardes in die gewildste gebiede met sowat 10 persent gaan toeneem, met kleiner stygings in gebiede waar daar minder vraag of geen voorraadtekorte is nie. Groei in inkomste, wat die afgelope twee jaar sterk gestyg het, gaan dus steeds uit groter volumes verkope verdien word.”

Related Articles

Back to top button