Rappies Pre-Primêr hou gradeplegtigheid

Die kleuters van Rappies Pre-Primêr geniet hul suksesvollge gradeplegtigheid geleentheid.

Rappies Pre-Primêr het vanjaar weer tydens ‘n spoggeleentheid totsiens gesê aan ongeveer 120 kleuters wat volgende jaar Graad 1 gaan betree.

Tydens die hoof, Sonja van Tonder, se boodskap, het sy verwys na die lewe as ‘n wedloop, en ouers se rol om hul kinders te bemoedig en te ondersteun.

“Jy kan nie die wedloop vir jou kind hardloop nie, maar jy kan daar wees as hulle val, om hulle op te help,” het Sonja tydens die geleentheid gesê.

Die kleuters se wedloop by die kleuterskool het nou tot ‘n einde gekom, en die ouers het trane afgedroog terwyl die kinders hulle afskeidslied met soveel trots gesing het.

“Volgende jaar begin dié kleuters hul nuwe wedloop by Laerskool Rapportryer en sal beslis ‘n groot sukses van hul skoolloopbaan in dié skool maak,” vertel Sonja.

Sy bedank namens haar mede-onderwysers en bestuur van Rappies Pre-Primêr dié kleuters vir die tyd wat hulle by die kleuterskool spandeer het.

“Ons gaan elkeen van julle mis, maar ons wens julle alle sterkte toe vir die uitdagings wat voorlê,” sê Sonja.

Exit mobile version