Rappies pom-poms maak groot opslae

Laerskool Rapportryer se pom-pom groep behaal 'n welverdiende eerste plek tydens die Drummies D2.

Laerskool Rapportryer se pom-pom groep het vanjaar weer puik gevaar en werklik ‘n voorbeeld gestel oral waar hulle opgetree het.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Rapportryer, Roleen Olivier, het die groep pom-pom dansers op 3 Augustus aan die eerste rondte van die Drummies D2 Kompetisie deelgeneem.

“Met hul fynbeplande choreografie en passie het dié groep hulself van ‘n welverdiende eerste plek in dié rondte verseker,” vertel Roleen.

Die afrigter van die span, Leandi Minnaar, vertel dat hulle tans hard aan die oefen is ter voorbereiding van die D2 kampioenskappe wat op 19 Oktober plaasvind.

“Ons is doelgerig om tydens dié kampioenskappe ons skool se naam weer hoog te hou,” vertel Leandi.

“Ons Pom-poms is ook tydens die Tshwane Youth Arts Festival uitdunne gekies om op 27 Augustus by die Staatsteater in Pretoria op te tree.

“Rappies Pom-poms is voorwaar ‘n span om op trots te wees.”

Die bestuur van Laerskool Rapportryer is werklik dankbaar vir die harde werk wat elke danser asook die afrigter en choreograaf, Rickert Minnaar lewer om te verseker dat Rappies pom-poms koning kraai.

Exit mobile version