Randfontein groet sy groot rugbygees

Randfontein Rugbyklub se klubbestuurder en geliefde vriend, Willie Hunter, is op 14 Julie oorlede.

Randfontein Rugbyklub se voormalige klubbestuurder en Randfontein-rugbylegende, Willie Hunter, is op 14 Julie oorlede.

“Die afsterwe van ons geliefde vriend en klubbestuurder, Willie Hunter, laat ‘n groot leemte by Randfontein Rugbyklub en ons almal by die klub sal hom baie mis,” vertel Randfontein Rugbyklub se president, Billy Vermeulen.

Willie se klubrugbyloopbaan het in 1975 afgeskop toe hy vir die eerste keer vir Randfontein se eerstes as slot uitgedraf het.

Billy sê dat Willie ‘n puik rugbyspeler met hope potensiaal was, maar in 1979 is al Willie se rugbydrome gestuit toe hy na ‘n motorongeluk vir die res van sy lewe van ‘n rolstoel afhanklik moes wees.

“Alhoewel Willie nooit weer kon rugby speel nie, het die liefde vir rugby steeds deur sy are gebruis en het hy teruggekeer klub toe as afrigter. Die feit dat hy afhanklik was van ‘n rolstoel het hom nie gekeer nie. Hy het destyds die klub se vierdespan afgerig en baie goed as afrigter gevaar,” vertel Billy.

Slegs twee jaar later is Willie as sekretaris van die klub gekies en in 1995 het hy die rol as klubbestuurder oorgeneem.

“Tot kort voor sy afsterwe was Willie die klubbestuurder. Hy het altyd sy werk met groot ywer en vriendelikheid gedoen. Sy betrokkenheid by die klub is onvervangbaar en hy sal vir elkeen wat hom geken het, altyd ‘n groot rugbygees bly,” vertel Billy.

Tydens die klub se prysuitdeling in 2011 het die bestuur van die klub vir Willie vir sy lewenslange bydrae tot die klub se sukses vereer. Daar is ‘n trofee aan hom oorhandig waarop die volgende gegrafeer is: “Dankie vir ononderbroke, eerlike, toegewyde en voorbeeldige diens aan die klub gelewer as speler, afrigter, sekretaris, tesourier en klubbestuurder vanaf 1975.”

Willie het op 9 Julie ‘n beroerte gehad en is in die hospitaal opgeneem waar hy op 14 Julie oorlede is.

“Randfontein Rugbyklub en elke persoon wat vir Willie geken het en vir hom lief was, gaan hom mis. Jou spasie hier is leeg, maar rus in vrede,” vertel Billy

Willie word oorleef deur sy twee seuns en hul gesinne.

Sy verassingsdiens word op 19 Julie in die NG Kerk Greenhills gehou.

Die Randfontein Rugbyklub nooi die gemeenskap uit om na afloop van die diens by die klub bymekaar te kom waar hulle die geleentheid sal kry om blomme en briewe langs die veld te plaas ter nagedagtenis aan dié groot rugbygees.

Exit mobile version