Alexia wen groot modelkompetisies

Alexia Smyth is al reeds op 'n jong ouderdom besig om haar talente te ontgin en maak haar merk op elke modelkompetisie waaraan sy deelneem.

Slegs twee jaar nadat vyfjarige Alexia Smyth begin het om modelwerk te beoefen, het sy al reeds opslae in die modelwêreld begin maak.

Alexia is onglangs as Laerskool Randfontein se Mej Al te Klein gekroon en het ook al verskeie ander groot titels soos Miss Tiny Cansa en Jewel of South Africa se fotogeniese kompetisie gewen.

Alexia vertel dat sy gedurende Mei 2011 begin het om modelwerk te doen. Sedertdien het sy al verskeie gesogde titels losgeslaan.

Die titels sluit Miss Carlswald, Mis Adonia Angels, Face for Pippie en vele ander titels in.

“Ek hou baie van modelwerk. Dit is vir my lekker om mooi aan te trek en kompetisies te wen,” sê Alexia.

“Ek maak ook sommer baie nuwe maats wanneer ek aan kompetisies deelneem.”

Behalwe vir die feit dat Alexia baie lief is vir modelwerk, is sy ook gaande daaroor om met haar poppe te speel en balet te doen.

Sy is tans ‘n baletstudent by Dans A Volante.

“Ek hou ook baie daarvan om saam met my mamma en pappa te gaan kamp.

“Die lekkerste plek waar ek al ooit gaan kamp het is Umaramba. Dit is vir my baie lekker om dan in die tent of in ons karavaan te slaap,” vertel Alexia.

Alexia se ouers, Charles en Chantelle, en grootouers Darius en Engela, is baie trots op haar en glo dat sy nog verskeie hoogtes in modelwerk gaan behaal.

Aangesien daar soveel mense is wat vir Alexia bystaan, wil sy vir elkeen dankie sê.

“Ek wil die heel graagste vir my modeljuffrou, tannie Elmarie wat my so mooi met my modelwerk help dankie sê,” vertel Alexia.

Exit mobile version