Steeds verlief na 50-jaar

Poen en Mien is gelukkig getroud na 50-jaar en vier dié mylpaal op 'n besonderse wyse.

 

Vir Poen en Mien Nortjé het 50-jaar van die getroude lewe in ‘n oogwink verby gevlieg en is steeds net so verlief soos met die eerste oogopslag.

Om dié besonderse mylpaal in hul lewe te herdenk het die paartjie besluit om hul huweliksbelofte aan mekaar te hernu.

Dié spesiale geleentheid het by die NG Kerk, Randpoort gemeente plaasgevind.

Dit is ook in dié kerkgebou waar Poen en Mien 50-jaar gelede vir die eerste keer trou aan mekaar belowe het.

Volgens Poen is dit vir hom ‘n groot prestasie want dit is nie net hulle 50ste huweliksherdenking vanjaar nie, maar beide hul seun en dogter vier vanjaar hul 25ste huweliksherdenking.

Poen en Mien het tydens die geleentheid in ‘n waentjie wat deur ‘n motorfiets gesleep word, by die kerk opgedaag.

Hul vier kleindogters het vir ‘Ouma’, die bruid by die kerk ingewag en vir haar, haar handruiker oorhandig waarna Poen en Mien na 50-jaar voor die selfde kansel gaan staan het.

Dominee Hennie le Roux het die diens waargeneem.

Na afloop van die diens het die gaste na Cottage Lodge vertrek vir ‘n geselligheid en Poen en Mien is die volgende dag met wittebrood na Margate.

“Dit is vir ons ‘n groot mylpaal in ons lewe en ons sien baie uit na die volgende 50-jaar,” vertel Poen en Mien.

Exit mobile version